Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 31 MEI 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van twee radioamateurs vandeesweek aangekondig moet word. Hulle is:
Frederick Strutt, ZS2JS, van Jeffreysbaai op Maandag 18 Mei 2009.
Barbara Buchan, ZS5TZ, van Scottsville, Pietermaritzburg, op Dinsdag 26 Mei 2009.
Ons betuig ons innige meegevoel met die afgestorwenes se familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

RADIOAMATEUREKSAMEN SE UITSLAE EERSDAAGS BESKIKBAAR

UITBREIDING VAN 40-METERBAND ‘N TREE NADER

EERSTE ANALOOGREKORD OP 4-METER-METEOORSTROOIING IN DIE RSA

MEER SIKLUS 24-VOORSPELLINGS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RADIOAMATEUREKSAMEN SE UITSLAE EERSDAAGS BESKIKBAAR

Mense kan die ontmoontlike doen, maar wonderwerke neem ‘n bietjie langer. Kandidate wat in Mei die radioamateureksamen geskryf het, moet so ‘n bietjie langer wag vir die uitslae. Die eksaminator en moderators kan eers die uitslae bekend maak nadat al die vraestelle van al die eksamensentra ontvang, gemerk en gemodereer is. Die SARL poog om die uitslae 2 tot 3 weke na die eksamen bekend te maak, maar partykeer is daar onvoorsiene oponthoude waneer vraestelle van afgeleë plekke vertraag word.
Moet asseblief nie die kantoor, die eksaminator of Raadslede skakel vir die uitslae nie. Dit sal die proses nie bespoedig nie. Sodra al die formaliteite afgehandel is, sal die uitslae op www.sarl.org.za beskikbaar wees en dit sal aan elke kandidaat gepos word.

UITBREIDING VAN 40-METERBAND ‘N TREE NADER

Die Raad van OKOSA het hierdie week die gewysigde radioregulasies goedgekeur. Die volgende stap is die publikasie daarvan in die Staatskoerant. ‘n OKOSA-woordvoerder het gesê hy verwag die gewysigde regulasis sal volgende Vrydag gepubliseer word.
Kry u antennas gereed om hierdie geleentheid te vier tydens die spesiale Boland Amateurradioklubkompetisie wat plaasvind op die eerste Sondag nadat die regulasies gepubliseer is. Hou www.sarl.org.za dop vir die nuutste inligting.

EERSTE ANALOOGREKORD OP 4 METER-METEOORSTROOIING IN DIE RSA

Baie geluk aan Andre, ZS2ACP, van Port Elizabeth en Paul, ZS6NK, in Polokwane met die opstel van die heel eerste analoogrekord op meteoorstrooiing op 70,200 MHz ESB in Suid-Afrika.
Paul sê, "Na maande se gesukkel het ek en Andre dit uiteindelik op 6 Mei 2009 teen omtrent 06:00 SAT op 4 meter met meteoorstrooiing op foon reggekry. Dit het ongeveer 25 minute geduur om te voltooi met 5/5 na beide kante. Daar was ‘n paar groot sarsies op FSK441 (tot 8 sekondes) en dit het ons aangemoedig om na foon te gaan."
Die radiopiek van die Eta Aquarid tydens ‘n eteoorbui het in die oggend tussen 08:00 en 11:00 SAT plaasgevind. Daar is lang en sterk sarsies op 50 en 70 MHz waargeneem; ‘n aantal het tot ‘n minuut en langer geduur en QSO’s op FM sou maklik gewees het.
Die volgende aantal dae kan nog interessante kontakte op meteoorstrooiing oplewer.

BESONDERHEDE VAN ZS10WRC VOLGENDE WEEK AANGEKONDIG

Die Raad van die SARL vergader hierdie week en sal die reëlings vir die Wêreldbekersokker se spesiale geleentheidstasie, ZS10WCS, finaliseer. Besonderhede sal volgende week met geaffilieerde klubs via die web en die SARL se e-posbrief meegedeel word. Bly ingeskakel by www.sarl.org.za.

MEER SIKLUS 24-VOORSPELLINGS

‘ n Internasionale paneel kundiges, gelei deur NOAA, en geborg deur NASA, het ‘n nuwe voorspelling bekend gestel vir die volgende sonsiklus. Sonsiklus 24 sal volgens hulle in Mei 2013 piek, met ondergemiddelde hoeveelhede sonvlekke.
"As ons voorspelling korrek is, sal sonsiklus 24 ‘n pieksonvlekgetal van 90 bereik, die laagste van enige siklus sedert 1928, toe sonsiklus 16 op 78 gepiek het,” sê die paneelvoorsitter, Doug Biesecker, van die VSA se Ruimteweervoorspellingsentrum.’n Mens is geneig om die siklus as “swak” of "lig,” te beskryf, maar dit kan die verkeerde indruk skep.
"Selfs ‘n ondergemiddelde siklus kan ernstige ruimteweer veroorsaak,” wys Biesecker uit. "Die groot geomagnetiese storm van 1859 het byvoorbeeld plaasgevind tydens ‘n sonsiklus van omtrent dieselfde grootte as wat ons vir 2013 voorspel”.
Die 1859-storm – bekend as die "Carrington-gebeurtenis" en vernoem na die sterrekundige Richard Carrington, wat die sonvlam wat dit ontketen het gesien het – het transmissiekabels geëlektrifiseer, brande in telegraafkantore laat ontstaan en noorderligte veoorsaak wat so helder was dat mense in die rooi en groen gloed kon koerant lees. ‘n Onlangse verslag deur die Amerikaanse Akademie vir Wetenskap het bevind dat as ‘n soortgelyke storm vandag sou plaasvind, dit skade van tussen een en twee biljoen Amerikaanse dollar sal berokken aan die hedendaagse hoëtegnologie-infrastruktuur, wat tussen vier en tien jaar sal neem om ten volle te herstel. Ter vergelyking het die orkaan Katrina maar “net” 80 tot 125 miljard dollar se skade veroorsaak.

KOMMUNIKASIE MET JEUG

Daar is vandeesweek 'n e-pos aan almal onder 26 gestuur wat 'n e-posadres het. Die e-pos bevat inligting oor jeugsake en van die SARL. Indien u onder 26 is, en nie 'n e-posadres in die SARL-roepseinboek het nie, werk asseblief u inligting by, want daar gaan gereeld e-posse oor jeugsake uitgestuur word. Daar sal ook volgende week briewe aan die lede gestuur word.

KOMPETISIENUUS

Die Jeugnaelloop vind op 16 Junie 2009 vanaf 10:00 tot 12:00 SAT plaas met baie pryse en gelukstrekkings vir die jeug en die amateurs wat die jeug ondersteun. Pryse sluit in ARRL-handboeke, SARL-lidmaatskap en toestelle om te bou. Meer inligting is beskikbaar op www.sarl.org.za.
SARL 80 meter QSO-geselligheid: Die kompetisiekomitee het 14 logstate ontvang waarvan 13 kompetisielogs was en een ’n kontrolelog. Die komitee het ‘n paar probleme ondervind met logs wat sonder die opsommingsblad of in ‘n onleesbare formaat versend is. Die volledige uitslae is beskikbaar in HF Happenings 355, wat vanaf die HF Happeningsbladsy by www.sarl.org.za afgelaai kan word. Die uitslae is:
1ste Jan Botha, ZS4JAN, 860 punte.
2de Bloemfontein-weermag-ARK, ZS9X, 785 punte (bedien deur Christo, ZS4O).
3de Pierre van Deventer, ZS6BB, 575 punte.
4de Adventure-radioklub, ZS1ARC, en Marius Preston, ZS4MP, met 565 punte.
Die ZS3-naelloop: Die kompetisiekomitee het 11 logstate en 2 kontrolelogs ontvang. Die eerste drie plekke sal sertifikate ontvang en die res van die deelnemers sal 'n sertifikaat van deelname ontvang. Die wenners is:
1ste Jan Botha, ZS4JAN, 90 punte.
2de Marius Preston, ZS4MP, 53 punte.
3de Pieter Jacobs, ZS6XT, 51 punte.

KLUBNUUS

Tydens die AJV van die Centurion Radioamateurklub op 16 Mei, is die volgende komiteelede verkies:
Voorsitter – Pam Momberg, ZS6APT;
Ondervoorsitter – Ben Booysen, ZS6BTB;
Sekretaris – Billy Strumpfer, ZS6WPS;
Tesourier – Pam Momberg, ZS6APT;
Tegnies – Johan Keulder, ZS6CAQ;
Lewenslange erelidmaatskap is toegeken aan Gert Viljoen, ZR6BV, vir sy herleidings van die Sondagaandbulletins en aan Pam Momberg, ZS6APT, vir haar toewyding aan die klub en amateurradio.

Die Magalies Radioamateurklub bied 'n snuffelmark op die 27ste Junie 2009 aan by hul klubhuis op die hoek van Breyer- en Millstrate, Waverley, Pretoria, sien http://www.zs6mrk.org/Klubhuis.htm vir aanwysings.
Tyd: 08:00 tot 11:00.
Koste: R20 per tafel of stalletjie.
Kontakpersoon: Nico, ZS6OI, by 082 772 2556.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Tans is daar geen "amptelike" sonvlekke nie en die verwagtinge is dat dit vir 'n ruk so sal bly. Sonvleksiklus 24 sal na verwagting sy piek gedurende Mei 2013 bereik. Begin solank dink aan 10 m- en 6 m-antennas!
Die hoeveelheid energie van die son wat die suidelike ionsofeer bereik, is met die seisoensverandering besig om af te neem. Dit het 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX.
Smiddae gaan die toestande na die ooste en die weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die noorde goed wees. Vroegoggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië en Nieu-Seeland te maak. Noordoostelike, noordwestelike, suidoostelike en suidwestelike paaie gaan uitdagend wees. Langpadpropagasie na die VSA is ook moontlik. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die geraasvlakke agv. statiese ontladings nog ’n bietjie hoog, wat uitdagings bied.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

8 Junie – Sluitingsdatum vir ZS4-naelloop-logstate;
16 Junie – Jeugdagnaelloop;
17 Junie – Wêreld-QRP-dag;
17 tot 21 Junie – SARL se 160-m-QSO-geselligheid;
27 Junie – Magalies Radioamteurklub se snuffelmark;
28 Junie – Digitale kompetisie.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan. Moet asb. nie nuusberigte aan die Administratiewe Beampte of direk aan een van die bulletinsamestellers stuur nie – die kanse is goed dat u berig gemis sal word en nie in 'n bulletin ingesluit word nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel is en deur Hester van der Walt taalversorg is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003